‘Onwettige veranderinge‘ aan amptelike dokumente groot kopseer vir direkteur
Groot kommer heers onder Stellenbosse belastingbetalers oor ‘n klagte wat teen die direkteur van korporatiewe dienste tydens ‘n onlangse raadsvergadering gemaak is.
‘n Ingeligte bron in die munisipaliteit, wat weens vrees vir vervolging anoniem wil bly, het gesê die klagtes is teen Annalene de Beer, direkteur van korporatiewe dienste, gemaak weens wanbestuur en misbruik van gesag. Dit spruit uit voorvalle waartydens onregmatige veranderinge aan datums op amptelike dokumente en ook die aanpassing van die inhoud van ander dokumente, na bewering gemaak is. Die klagte is deur Alexander Kannemeyer, die menslike hulpbronbestuurder van die Stellenbosse munisipaliteit en Mynhard Slabbert, DA-wyksraadslid vir wyk 21, gemaak.
Tydens die spesiale raadsvergadering wat op Donderdag 23 Januarie gehou is, het 38 van die 42 raadslede ten gunste van ‘n ondersoek na die beweringe gestem. Die VF+, die ACDP en EFF het nie die mosie ondersteun nie. Volgens die bron is ‘n regsfirma, reeds genader om die voorval en bewerings te ondersoek.
De Beer is reeds geruime tyd in die kollig, hoofsaaklik weens die wyse waarop sy deur die vorige burgemeester, Gesie van Deventer, op ‘n langtermynkontrak aangestel is. Direkteurs van munisipaliteite van ‘n spesifieke gradering word gewoonlik op ‘n 5-jaar kontrak aangestel, maar De Beer se kontrak is onder groot kontroversie deur Van Deventer na 10 jaar verleng. Geraldine Mettler, die munisipale bestuurder, het na verneem word ook De Beer se aanstelling goedgekeur en onderteken. Hierdie aanstelling is na bewering egter nooit deur die raad goedgekeur nie en was die onderwerp van ‘n hofsaak om dit reg te stel. Van Deventer het volgens die bron ook agter die skerms gewerk om te probeer verseker dat die huidige klagte teen De Beer nie verlede week voor die raad moet dien nie.
Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, het op navrae gereageer en gesê: “Op hierdie stadium is ons nie in staat om enige besonderhede te verskaf nie, aangesien hierdie saak ’n interne HR-proses rakende ’n personeellid behels. Die proses word uitgevoer volgens behoorlike prosedures en arbeidswetgewing. Ons sal ’n opdatering verskaf sodra die ondersoek afgehandel is en aan die Raad voorgelê is.”
This has been reported by Stellenbosch Bussines Forum more than a year ago. We were completely ignored . Same with the safety issues in Stellenbosch. Now they want to act after the damage was done . All this was brought under their attention. What you know is only the tip of the iceberg. Stellenbosch municipality is as bad as it gets, they hide well. Jeremy Fassr was Gesie Van Deventer’s second for 8 years. He knew what was happening, Mynhard Slabbert was hand picked by Gesie, he also knew. They are covering their own asses