Die munisipaliteit neem kennis van die klagtes rondom ‘n insident, soos beskryf deur Mnr. Booyens in ‘n artikel wat op 12 September 2022 gepubliseer is. Die munisipaliteit se Kommunikasie Departement is inderdaad genader vir kommentaar hierop – om 21:35 op 12 September, maar ongelukkig was die artikel reeds gepubliseer sonder ons insette.

Die artikel verwys ook na navrae wat aan die Burgemeester gestuur is, maar dis aan die administrasie gestuur. Hierdie verwysing in die artikel skep ongelukkig die indruk dat die Burgemeester direk gekontak is en nog nie beantwoord het nie.

Die wagte waarna verwys word is nie buite-kontrakteurs nie, maar aangestel as munisipale wagte om te kyk na parkering onder die Uitgebreide Openbare Werke Program (EPWP – ‘n nasionale regering program). Hierdie parkeerwagte is relatief nuut aangestel en is ook nog in die proses om opleiding te ontvang.

Soos wat almal weet, is haweloosheid is ‘n reuse probleem regoor Suid-Afrika, so ook in ons aangrensende munisipaliteite. Stellenbosch werk deurgans aan oplossings en inisiatiewe om hierdie kwessies aan te spreek.

Ons Departement van Gemeenskapsdienste het verlede maand ‘n forum oor haweloosheid in die stadsaal aangebied waar besighede, nie-regeringsorganisasies, kerke en ander rolspelers met die munisipaliteit byeen kon kom om koppe bymekaar te sit. So beoog ons om deurlopend met praktiese en volhoubare oplossings vorendag te kom.

Die munisipaliteit gee jaarliks befondsing aan die Stellenbosch Nagskuiling en is ook ‘n hoofrolspeler in die Gee Verantwoordelik veldtog wat sedert 2019 saam met die Universiteit, die Nagskuilsing, Voeding in Aksie en ander rolspelers hawelose persone bystaan met kos, slaapplek en toegang tot maatskaplike dienste.

Verder het ons Departement van Gemeenskapsdienste ook verlede maand vir twee dae opleidingsessies gehad met 118 munisipale parkeerwagte. Hierdie sessies was gereel om juis aan die nuwe wagte opleiding te gee oor die sensitiwiteit rondom haweloosheid, hoe om probleme rondom haweloosheid aan te meld by Wetstoepassing en hoe om die Gee Verantwoordelik veldtog te bevorder deur motoriste aan te moedig om die veldtog te ondersteun i.p.v. om kontant te gee op straat.

Daar was ook ‘n oudit gedoen van hawelose persone in die munisipaliteit en daar word so ver as moontlik akkuraat rekord gehou van die hoeveelheid hawelose persone in ons munisipale area. Hierdie data help ons en ons vennote om te beplan en te begroot om saam die enorme kwessie van haweloosheid aan te spreek.

Munisipale Wetstoepassing monitor en patroleer alle areas in terme van ons Paaie en Strate Verordening. Die munisipale gebied sluit nie net Die Braak en Stellenbosch in nie, maar al ons dorpies – van Klapmuts tot Kayamandi, Pniel tot Jamestown, Franschhoek tot Cloetesville en Idasvallei tot Raithby. Hierdie word aangeteken en van rekord gehou.

Die Munisipale Beheerkamer se 24-uur kontaknommer is 021 808 8999 of 079 622 4722 per WhatsApp. Indien daar enige klagtes is oor ‘n spesifieke wag / insident, kan hierdie nommers geskakel word.